Iran

Picture1.png

‘n Reisveslag deur Helgard Honiball ZS6HON

Iran is ‘n land in variasies van dowwe kleure.  Variasie tussen woestyn sand bruin tot geboue bruin, en dit is dit.  Enigste kleur wat te bespeur is, is die helder groen vlae op maste elke hier en daar.  Tot swart vlae (iets te make met die godsdienstige fees) lyk of dit ‘n skreeuende kleur is teen die bruin agtergrond.

Iran is egter ‘n plek met ‘n baie vriendelike ambassade. Hulle nooi jou in agter pantser deure na ‘n konferensie tafel om te hoor wat jy in daai wildernis wil gaan maak.  Die man van die ambassade lyk soos ‘n skraal Ossewa ben Lategan en hy is welsprekend.  Sy klere lyk of hulle al ‘n paar myle op het, en hy dra nie ‘n gordel nie.  Maar binne vyf minute weet hy wat hy wil weet en kan ons ons visums oor drie dae kom haal.  Op die oog af glad en als te vlot. Onheilspellend vlot.

Met die aankoms in Tehran, verwittig die lugredery jou dat alle vrouens ‘n doekie op die kop moet dra. Serp, sakdoek of kussingsloop maar maak ‘n plan.  As jy ‘n morele beswaar daarteen het, nooi hulle jou vriendelik om liewers op die vliegtuig te bly, want op die loopplank staan gewapende polisie drie tree van die deur af om seker te maak hulle koppe is bedek.

Nou daar is niks soos swak beplanning om ‘n reis na ‘n militante moslem land op te kikker nie.  Daag ons mos op net mooi die dag voor die grootste fees op hulle kalender.  Dit beteken jy wen die troosprys van drie nagte in ‘n vierster hotel. Jy kan nêrens heen gaan nie want daar is nie vervoer nie want almal is besig om in die strate in ‘n prosessie eienaardige kaperjolle te maak.

En dan is daar niks wat swak beplanning afrond soos voedselvergiftiging nie. Ja, nogal halaal voedselvergiftiging by dit als.  Halaal voedselvergiftiging werk nog soos ‘n brandslang na een en twintig immodiums.  Tehran se rioolstelsel kan nie papier verwerk nie, en dus kan jy nie papier in die toilet afspoel nie.  Daar is ‘n blikkie langs die troon waar jy die papiertjie ingooi nadat jy jou -met permissie gesê – gestort het met ‘n hand stort langs die troon.  Hier onder is die kennisgewing wat langs die troon opgeplak is.

2.png

Op ons eerste werksdag het die gasheer by ‘n apteek gestop, en hulle gee jou sommer antibiotika oor die toonbank, want hulle het régte borshare.  Dit het ook nie gewerk nie en ek is knyp-knyp al swetend in die middel agter in die kar van sleutelgat toilet tot sleutelgat toilet vier ure se reis ver na ‘n myn.  Nou die liewe lesers wat nou nog nie my penarie waardeer nie, kan maar net op eie tyd en teiken ‘n vyf sent probeer raak spuit met ‘n bottel Wimpy mosterd. Sonder om die skoene te tref.

Oor myne: Myne het oor die jare vir my ‘n bekende stel geluide en reuke gekry.  Soos ouma se kombuis.  Jy assosieer ouma met anys en ‘n songebakte warm novilon geur. Maak nou nie saak waar jy kom nie, ondergrond is daar ‘n muwwe reuk en hol geklingel van staalwerk in die skag.  Selfde met hysmasjiene en hysmasjien drywers.  In Suid Afrika is daar altyd ‘n grusame ondertoon van sigaretrook en motiverings plakkate teen die mure.  Van daai motiverings plakkate met die onskaam tannies op.  En dit is die enigste verskil met Iran – geen plakkate van kaal tannies daar.

3.png

In die foto staan daar ‘n keteltjie wat amper lyk soos ‘n hubbly bubbly, behalwe dat hy tee brou. Op die feesdae is deel van die fees dat mense vir die armes – en die infidels-  tee op straat uitdeel.  Dan pak hulle goudbeslane keteltjies uit om die armlastiges te bedien met ‘n onheilspellende glimlag.

4.png

Hier bo staan ons op ‘n oopgroef myn 40km van Afghanistan, en die Afrikaner wonder “Wat de hel het hulle besiel om hier te kom delf”.  Die Duitser in die middel dink “Ek hoop die Afrikaners het iets sinvols om vir die mense te sê”.  En die Arabier dink “Dit lyk of ek die een met maagwerk kan bekeer, want hy het hom klaar amper dood gebollie”.

Kos.  Heerlike kos.  As daai mense jou voer, dan doen hulle dit ordentlik. Hier onder is ‘n bord kos vir een persoon.  Dit is skaaptjops (wat dalk van ‘n bok geoes is), saffraan rys, en soetrissie.  5.pngHulle hou van hulle piekel komkommers, en bykans elke maaltyd (ontbyt ingesluit) het ‘n piekel van een of ander vorm. Naas piekels is soetrissies die gewildste.  Piesangs word glo in Dubai verbou, want jy sal Iran nou nie uitskel vir vrugbaar en waterryk nie. Coke kry jy nie, maar net Pepsie – iets met sanksies te make.  En vir dieselfde rede is daar ‘n swetterjoel Renaults op die paaie want sekere Franse het sanksies minder aantreklik gevind.

Ons toer ‘n moskee: Die godsdienstige hoofstad van Iran is Mashad. As belonign vir ons swak beplanning land ons op ‘n vlug soontoe douvoordag en betyds vir die gasheer om ons die moskee te gaan wys.  Eintlik is dit ‘n moskee in ‘n moskee met nog moskees rondom.  Omtrent 10Ha as ek reg onthou.  So met die aankom slag (na lughawe sterkte sekuriteit) kry ons eers induksie.  Ons kyk na ‘n video onder toesig van ‘n imam wat my laat dink aan Jafar van Alladin.  Hy verneem of daar iets is wat ons wil weet.

Ons peins.

Nou is seker die verkeerde tyd om te vra dat ek nog altyd wonder wat word van ‘n man se vuis as hy sy hand oop maak, want ek vermoed die man kan ‘n plotselinge onderontwikkeling van sy humoristiese konteks ontwikkel as hy met ligsinnigheid gekonfronteer word.

Ons antwoord dat ons nie vrae het nie.  Die imam is bietjie ontsteld, maar hy hou sy gesig vriendelik.  Dis net sy hande wat hy moet inmekaar vou om kalm te bly.  Ons eerste stop is die plein voor een van die eerste moskees.

6.png

Duidelik is ons gedragskode uit.  Die vrouens draai daai swart gewaad, en mans almal ge-kispak in swart of grys.  Die imam wil weet of ons nou vrae het, maar ons het nog nie.  Sy neusvleuel toon nou ‘n spiertjie wat spring.  Hy vat ons na ‘n ingang van ‘n saal een vloer ondergrond. Jy moet jou skoene in ‘n deursigtige plastiek sak plaas sodat jy nie stof intrap nie.  Hier sit troppe mense rond in op weelderige matte en berei voor om te gaan bid bo.

7.png

Die imam vra weer of ons vrae het, maar ons infidele het nog niks in ons breins ontdek waarmee hy kan help nie.  Het sy oog nou ‘n springende spiertjie gekry?  Ek kon nie sien nie, want hy gee nou moed op en los ons in ons gasheer se sorg.  Die wys ons nog ‘n binneplein waar koepels met goud beslaan is en parkeer ons dan in die infidel area terwyl hy gaan bid.

8.png

Die musiek en dreunsang blêr en ons probeer onsigbaar raak.  Dit het hom ‘n uur geneem en toe kom verwyder hy ons.

Emirates het my op die terugvlug reg langs die geriefie geplaas, vir die wedersydse beskerming van my en die mede passasiers.  Ek dink nie Iran is ‘n plek wat op my sal groei soos Indië nie, maar wel ‘n ondervinding.

Advertisements