Voorbodes, perskes en die swart kat.

Helgart – ZS6HON het weereens pen tot papier gebring – of sal ek se vinger na sleutelbord om vir ons die te skryf.

Ou mense se goed: In die dae voor TV, het mense minder gehad om oor te praat. In ons familie was daar altyd ‘n tannie of oom met ‘n onnatuurlike beheptheid met die dood. Hoor hulle nie ‘n uil roep in die nag in ‘n oostelike rigting drie jaar voor die dood van iemand oos van hulle nie, dan sien hulle een of ander gedrog wat met ‘n ander se skielike dood te make het. Ek dink persoonlik gallerigheid van al die vetterige skaapvleis het dalk baie van die mense se voorspellings beïnvloed. So praat hulle jou dan goed bang, van mense wat nou nog na rus soek en rondloop en die lewendes teister. Wanneer die vrees jou dan verlam raak, word jy bed toe gejaag in ‘n donker kamer op ‘n doodstil dorp waar al wat ‘n geluid jou dan teister tot jy in ‘n wanhopige beswyming wegsak. Op daai punt het ‘n wit japon wat in die wind beweeg jou al bietjies- bietjies laat plassie maak soos ‘n klein hond.

Nagtelike profesië. Party mense praat mos in hul slaap. My een dogter het so hele diskoerse gevoer oor goud wat weggesteek is, en nog wat als. Tot die kêreltjies begin kom het, en toe het sy net gegiggel. Dit is beter om nie te spekuleer nie. My ma weer het nie baie gepraat in haar slaap nie, behalwe daai een nag wat sy luidkeels ‘n paar goed te sê gehad het. Dit was ast ware ‘n nagtelike profesie. Alhoewel die woorde meestal in enkel klankgrepe was, en mens daarom sou kon dink dat dit op kinder vlak was, het dit ‘n ouderdomsbeperking van 21 en getroud gehad.

Geelkoos: Die ou kasarmte wat ons bewoon het op Griekwastad was ‘n antieke gebou, reg langs wat toe die komando kantoor was. Laasgenoemde is vandag ‘n restaurant en van die kasarmte het net ‘n paar vae lyne in die onkruid oorgebly.

kasarm.png
Die kasarm se voetspoor is al wat vandag nog staan.

In my standerd drie jaar het jy nog van die blink rooi stoep af direk op die sypaadjie getrap. Dit het ‘n tamaai sink staan dak, houtvloere, hout skuif vensters en ‘n emmer toilet buite gehad. Sy vloere en dak het met die oorgang tussen dag en nag alte verskriklik aan die kreun gegaan. Soveel so dat ons later begin dink het ou Geelkoos spook daar. Jy kon dan die man hoor loop in die aand! Geelkoos was op soek na rus, of so iets en het gereeld in die huis (waar hy oorlede is) gewandel. Jy sit en kyk nog Dracula op TV dan hoor jy hoe kom iemand in die gang af, en draai by die spookkamer in. Nie een van ons kinders wou in die spookkamer slaap nie. As die nood druk en jy slaap daar, dan maak jy nie ‘n oog toe nie uit blote vrees.

Perskeboom: Ons was maar arm, en ek en my boetie het nie te veel speelgoed gehad nie. So as daar nou ‘n armsalige enkele perske aan ‘n perskeboom hang, dan speel ons maar met hom. So met die gespeel slinger een van ons die gewraakte perske in ‘n trajek wat hom paster dwarsdeur die senter van die onderste paneel in die skuifraam venster projekteer. Ons was arm. En kyk daar was nie geld vir ‘n glas paneel nie. Ek weet nou ook nie waar op Griekwastad mens die ding sou koop nie, want die breek van glas was soos om water te mors: totaal onverskoonbaar. Dit was een van die drie onverskoonbare sondes. Kla oor reën, mors met water, en breek van venster. Daai drie vat jou hel toe verby die skoolhoof se kantoor. So ons het maar die glas versigtig binne bymekaar gekrap en weggegooi. Dit was gelukkig die spaarkamer so ons misstap sou nie gou aan die lig kom nie, miskien eers in Augustus as die wind die helfte van die atletiekbaan daar in waai.

Met die tyd het ons huiskatte die gat nogal gerieflik begin vind want omdat dit die onderste paneel was, kon hulle nou ongestoord van buite na binne beweeg deur hulle troeteldier grootte deur.

Die voorbode: Ons het darem gaste gekry so af en toe. Een oorlams tannie het na ‘n oordadige middagete van vetterige skaap lieslap, rys en aartappels ‘n uiltjie geknip in die einste spookkamer. Seker nog goorkeel van die gal, maar toe ons nou vieruur aansit vir koffie, sal sy laat weet sy het nou ‘n voorbode gesien. Blykbaar sal in haar visioen ‘n wit doodkis by die spookkamer se deur inskuif en by die venster uitsweef. Ek en my boetie moes to grootoog sit en aanskou oor die spekulasie oor wie sy nou kon gesien het. Wit doodskis moet ‘n kind of jongeling wees, en so gaan hulle deur ‘n lys van die distrik se afgestorwenes en wat die moontlike redes vir gebrek aan rus kan wees. Daai lys uitgeput word die kranklikes bespreek – want miskien wil iemand onverwags lepel in die dak steek. En ek en my boetie se verbeelding raak wild aan die werk, en ons kry sommer op die plek appelkoosmaag van die stres. Hierdie voorbode het lank by ons gespook.

Oor Desember het my ma se suster en die se man kom kuier. So hulle slaap toe in die hoofslaapkamer, en my ma trek spookkamer toe vir die geleentheid. Sekerlik is daar om etenstafel weer bespiegel wie met een voet op ‘n piesangskil staan in die rigting wat die uil geroep het. Toe is ons almal kooi toe na nog ‘n oordadige aandete. My ma het maar senuagtig gaan lê op die spookkamer se bed, waarvan die koppenent reg onder die perske venster was. So in die oorgang tussen slaap en wakker speel die maanlig romanties op die kantgordyn, die wind blaas liggies deur die gat in die venster en die wit kantgordyn rys op saam met ma se nekhare. Op daai oomblik besluit Lord Prrr die kat om in te kom en land daai kat mos viervoetig op haar bors.

Sy het hom so luidkeels verwiller die hele huis het gehoor. Ek en my boetie was nie oud genoeg om die goeters te verwerk wat sy kwyt geraak het nie, en dit is vandag nog onduidelik of sy haar vererg het, of net die kat aangespreek het op hollands.

Ons het vir lank nie weer durf spookstories vertel in haar teenwoordigheid nie.

‘n Ware verhaal deur Helgard Honiball, ZS6HON. Slegs Geelkoos se naam is verander, sodat hy kan bly rus in vrede.

Advertisements