Voorbodes, perskes en die swart kat.

Helgart – ZS6HON het weereens pen tot papier gebring – of sal ek se vinger na sleutelbord om vir ons die te skryf.

Ou mense se goed: In die dae voor TV, het mense minder gehad om oor te praat. In ons familie was daar altyd ‘n tannie of oom met ‘n onnatuurlike beheptheid met die dood. Hoor hulle nie ‘n uil roep in die nag in ‘n oostelike rigting drie jaar voor die dood van iemand oos van hulle nie, dan sien hulle een of ander gedrog wat met ‘n ander se skielike dood te make het. Ek dink persoonlik gallerigheid van al die vetterige skaapvleis het dalk baie van die mense se voorspellings beïnvloed. So praat hulle jou dan goed bang, van mense wat nou nog na rus soek en rondloop en die lewendes teister. Wanneer die vrees jou dan verlam raak, word jy bed toe gejaag in ‘n donker kamer op ‘n doodstil dorp waar al wat ‘n geluid jou dan teister tot jy in ‘n wanhopige beswyming wegsak. Op daai punt het ‘n wit japon wat in die wind beweeg jou al bietjies- bietjies laat plassie maak soos ‘n klein hond.

Nagtelike profesië. Party mense praat mos in hul slaap. My een dogter het so hele diskoerse gevoer oor goud wat weggesteek is, en nog wat als. Tot die kêreltjies begin kom het, en toe het sy net gegiggel. Dit is beter om nie te spekuleer nie. My ma weer het nie baie gepraat in haar slaap nie, behalwe daai een nag wat sy luidkeels ‘n paar goed te sê gehad het. Dit was ast ware ‘n nagtelike profesie. Alhoewel die woorde meestal in enkel klankgrepe was, en mens daarom sou kon dink dat dit op kinder vlak was, het dit ‘n ouderdomsbeperking van 21 en getroud gehad.

Geelkoos: Die ou kasarmte wat ons bewoon het op Griekwastad was ‘n antieke gebou, reg langs wat toe die komando kantoor was. Laasgenoemde is vandag ‘n restaurant en van die kasarmte het net ‘n paar vae lyne in die onkruid oorgebly.

kasarm.png
Die kasarm se voetspoor is al wat vandag nog staan.

In my standerd drie jaar het jy nog van die blink rooi stoep af direk op die sypaadjie getrap. Dit het ‘n tamaai sink staan dak, houtvloere, hout skuif vensters en ‘n emmer toilet buite gehad. Sy vloere en dak het met die oorgang tussen dag en nag alte verskriklik aan die kreun gegaan. Soveel so dat ons later begin dink het ou Geelkoos spook daar. Jy kon dan die man hoor loop in die aand! Geelkoos was op soek na rus, of so iets en het gereeld in die huis (waar hy oorlede is) gewandel. Jy sit en kyk nog Dracula op TV dan hoor jy hoe kom iemand in die gang af, en draai by die spookkamer in. Nie een van ons kinders wou in die spookkamer slaap nie. As die nood druk en jy slaap daar, dan maak jy nie ‘n oog toe nie uit blote vrees.

Perskeboom: Ons was maar arm, en ek en my boetie het nie te veel speelgoed gehad nie. So as daar nou ‘n armsalige enkele perske aan ‘n perskeboom hang, dan speel ons maar met hom. So met die gespeel slinger een van ons die gewraakte perske in ‘n trajek wat hom paster dwarsdeur die senter van die onderste paneel in die skuifraam venster projekteer. Ons was arm. En kyk daar was nie geld vir ‘n glas paneel nie. Ek weet nou ook nie waar op Griekwastad mens die ding sou koop nie, want die breek van glas was soos om water te mors: totaal onverskoonbaar. Dit was een van die drie onverskoonbare sondes. Kla oor reën, mors met water, en breek van venster. Daai drie vat jou hel toe verby die skoolhoof se kantoor. So ons het maar die glas versigtig binne bymekaar gekrap en weggegooi. Dit was gelukkig die spaarkamer so ons misstap sou nie gou aan die lig kom nie, miskien eers in Augustus as die wind die helfte van die atletiekbaan daar in waai.

Met die tyd het ons huiskatte die gat nogal gerieflik begin vind want omdat dit die onderste paneel was, kon hulle nou ongestoord van buite na binne beweeg deur hulle troeteldier grootte deur.

Die voorbode: Ons het darem gaste gekry so af en toe. Een oorlams tannie het na ‘n oordadige middagete van vetterige skaap lieslap, rys en aartappels ‘n uiltjie geknip in die einste spookkamer. Seker nog goorkeel van die gal, maar toe ons nou vieruur aansit vir koffie, sal sy laat weet sy het nou ‘n voorbode gesien. Blykbaar sal in haar visioen ‘n wit doodkis by die spookkamer se deur inskuif en by die venster uitsweef. Ek en my boetie moes to grootoog sit en aanskou oor die spekulasie oor wie sy nou kon gesien het. Wit doodskis moet ‘n kind of jongeling wees, en so gaan hulle deur ‘n lys van die distrik se afgestorwenes en wat die moontlike redes vir gebrek aan rus kan wees. Daai lys uitgeput word die kranklikes bespreek – want miskien wil iemand onverwags lepel in die dak steek. En ek en my boetie se verbeelding raak wild aan die werk, en ons kry sommer op die plek appelkoosmaag van die stres. Hierdie voorbode het lank by ons gespook.

Oor Desember het my ma se suster en die se man kom kuier. So hulle slaap toe in die hoofslaapkamer, en my ma trek spookkamer toe vir die geleentheid. Sekerlik is daar om etenstafel weer bespiegel wie met een voet op ‘n piesangskil staan in die rigting wat die uil geroep het. Toe is ons almal kooi toe na nog ‘n oordadige aandete. My ma het maar senuagtig gaan lê op die spookkamer se bed, waarvan die koppenent reg onder die perske venster was. So in die oorgang tussen slaap en wakker speel die maanlig romanties op die kantgordyn, die wind blaas liggies deur die gat in die venster en die wit kantgordyn rys op saam met ma se nekhare. Op daai oomblik besluit Lord Prrr die kat om in te kom en land daai kat mos viervoetig op haar bors.

Sy het hom so luidkeels verwiller die hele huis het gehoor. Ek en my boetie was nie oud genoeg om die goeters te verwerk wat sy kwyt geraak het nie, en dit is vandag nog onduidelik of sy haar vererg het, of net die kat aangespreek het op hollands.

Ons het vir lank nie weer durf spookstories vertel in haar teenwoordigheid nie.

‘n Ware verhaal deur Helgard Honiball, ZS6HON. Slegs Geelkoos se naam is verander, sodat hy kan bly rus in vrede.

Advertisements

Vierkantkilometeropstelling (SKA)

eb9b7452cdc806568d2312ea5614a301.jpg

Die SKA oftewel die Square Kilometre Array (Vierkantkilometeropstelling) is ‘n radioteleskoopprojek wat by voltooiing uit meer as 3 000 radioteleskope sal bestaan. Twee derdes van die radioteleskope sal in Suid-Afrika gebou word en die ander in Australië en Nieu-Seeland. Konstruksiewerk is in 2016 aan die projek begin, wat eers teen 2024 teen ‘n koste van €1.5 miljard voltooi sal wees. Die SKA sal elke dag meer data genereer as die hele internet. Die square kilometre verwys na die feit dat die totale oppervlakte van al die antennes een vierkantkilometer groot is.

Werkingsbeginsel

Hemelliggame straal elektromagnetiese straling uit wat opgevang of bespeur kan word met die regte toerusting soos ‘n radioteleskoop. ‘n Radioteleskoop bestaan uit skottelantennes en stralingsvlakantennes wat die hele spektrum dek. kpt-ska-kilometer-array-480Al die radioteleskope word met ‘n sentrale beheer-en-verwerkingskantoor verbind met optiese vesel kabel. Die inligting word hier verwerk met rekenaars om ‘n beeld te skep wat die mens kan sien. Die spektrum wat die radioteleskoop sien is baie wyer as wat deur ‘n optiese teleskoop gesien kan word. Optiese vesel word verkies bo koper omrede dit bestand is teen elektromagnetiese straling is soos weerlig.

Sentrale rekenaar

Die sentrale rekenaar van die SKA sal ‘n verwerkingsvermoë van 100 miljoen persoonlike rekenaars hê en sal 1018 opdragte per sekonde verwerk.

Australië

‘n Klomp klein, laefrekwensie-stralingsvlak-antennes sal in Australië opgerig word tydens Fase 1. Die tipe antenne is sowat 1,5 m hoog. Daar sal ook sestig hoëfrekwensieskottelantennes in Australië opgerig word as deel van Fase 1. Dié antennes is sowat 15 m hoog.1488100651717.jpg

Nieu-Seeland

Daar sal ook ‘n paar skottelantennes in Nieu-Seeland opgerig word tydens Fase 1.

Suid-Afrika

Tydens Fase 1 sal ongeveer 190 antennas opgerig word. Tydens Fase 2 sal 3 000 skottelantennes in Suid-Afrika opgerig word. Al die antennes sal in die Noord-Kaap opgerig word, in die gebied suid van N14, wes van Upington, suidwes van die N10 tussen Upington en waar die N10 die N12 kruis, wes van die N12 en Victoria-Wes en weswaarts van Brandvlei en Williston. Hierdie gebied is spesifiek gekies omrede daar weinige magnetiese versteurings is soos in stedelike gebiede ondervind word. Suid-Afrika se aandeel in die SKA is die grootste.

Bronne

  • Beeld. Grootste deel van SKA-projek hier gevestig. SA, jou ster! 26 Mei 2012
  • Rapport. SKA-besluit ‘beste skikking’. 27 Mei 2012
  • Quest. Africa celebrates SKA bid outcome Vol 8. Number 2. ISSN 1729-830X

Prof Christo Viljoen se terugblik op TNT en die teenspanning.

Artikel verskaf deur Anette

Teenspanning is deur my as redakteur geskryf en deur my en my vrou in ons woonstel in Acacia gedupliseer op ‘n Gestetner afrolmasjien; dit was heerlike werk. Die naam “Teenspanning” het baie woorde gespreek…..

hqdefault

TNT het tot stand gekom nadat die Pretoria tak van die SARL as redelik Afrikaans onvriendelik deur baie lede ervaar was. TNT was van die begin af onbeskaamd Afrikaans en was gekenmerk deur gesellige byeenkomste met gereelde bring-en-braai braaivleisbyeenkomste op ‘n Saterdag by die Fonteine. Ek onthou nog die tuisgemaakte braaivleissous genaamd Mompoer wat jare lank ‘n gunsteling in ons gesin was, selfs nadat ons Pretoria verlaat en Stellenbosch toe getrek het. (Vandag het Jimmy se sous oorgeneem, helaas!)

‘n Klubprojek was ‘n enkelbuis 2-meter sender-ontvanger, wat baanbrekerswerk vir daardie tyd was. Die klublede is ingespan om kommunikasie daarmee te verskaf by enkele motorwedrenbyeenkomste, wat ons in staat gestel het om gratis toegang by die Kyalami renbaan te kry, en voorste sitplekke in te neem – alles om rondom die renbaan te rapporteer oor die stand van die wedren. Vanweë die dinamika en meelewendheid van die klub het vele nie-Afrikaanssprekende lede van Tak Pretoria by TNT ingeskakel.
Ekself het as radio-amateur gekwalifiseer terwyl ek student op Stellenbosch was, en my ZS1HC roepsein ontvang het op my 18de verjaardag (destyds die minimum-ouderdom om te kwalifieer vir ‘n uitsaailisensie, wat die Morse-kode toets teen 12 wpm vereis het!)  Ek is dus vanjaar reeds 61 jaar lank ‘n radio amateur.

maxresdefault.jpgDie eeste jaar mag jy net in Morse-kode uitgesaai het. Ek en twee ander Stellenbosch studente en mede radio-amateurs, Vide le Grange en Hennie Aucamp, het Sondagmiddae op die 90 meter band om die beurt “musikale frekwensies” (“MF’s”) (musiekopnames op 33 opm plate) uitgesaai as “musikale versoekprogam” vir die asters in die vrouekoshuise. Elkeen mog net vir 3 minute ‘n MF uitsaai, en dan nie weer binne 5 minute nie, maar deur beurte te maak kon ons ‘n deurlopende program op die lug hou……

Na my studies is ek oorsee en het ek my tuisadres dié van my ouerhuis in Graaff-Reinet gemaak, en is my roepsein na ZS2HC verander. Na my terugkeer van oorsee het ek as ingenieur gewerk by die Derdepoort radiostasie, en is ek aanvanklik die roepsein ZS6HC toegeken.

Derdepoort radio receive station, 1950's
Derdepoort Radio Stasie

Toe ek op die lug gaan, kom ek agter daar is ‘n ander radio-amateur wat ook as ZS6HC uitgesaai het. Navraag by die poskantoor het getoon dat hulle per ongeluk dieselfde roepsein aan twee verskillende amateurs toegeken het; my roepsein is toe verander na ZS6HV.

As student op Stellenbosch het ek dikwels besoek afgelê by oom Outie Lategan, ‘n radio-amateur baanbreker met die roepsein ZS1O (wys hoe vroeg hy reeds sy lisensie ontvang het!). Oom Outie het daagliks met morse-kode oor die wêreld heen met ander amateurs gesels, en was gladnie gelukkig daarmee om spraak te gebruik nie.

Vriendelike groete

Christo Viljoen ZS1HC (voorheen ZS2HC, ZS6HV)

Navorsing uit die natuur – No 22: Vlikkerende Seeslak / Clusterwink Snail

Vlikkerende seeslak_CLUSTERWINK SNAIL

Seeslak Cluster wink snail

Seeslak

Baie seediere is bioluminiserend—dit wil sê, hulle kan lig voortbring. Die flikkerende seeslak, Hinea brasiliana, gebruik hierdie vermoë op ’n unieke manier. Wanneer hy deur ’n krap bedreig word, kruip hy terug in sy skulp en “flikker” hy. Die geflikker skrik die krap af. Maar hoe skyn die lig deur die seeslak se skulp?

Die skulp van die flikkerende seeslak keer nie dat lig deurskyn nie, dit versprei dit eerder. Dimitri Deheyn en Nerida Wilson, wetenskaplikes by die Scripps-instituut vir Oseanografie in San Diego, Kalifornië, VSA, het gevind dat die lig wat deur die seeslak voortgebring word, eweredig regdeur die hele skulp versprei word en dat die skulp die lig tien keer doeltreffender versprei as ’n kommersiële verspreier van dieselfde dikte (0,5 millimeter). Boonop is die skulp se vermoë om hierdie lig na sy omgewing te laat deurskyn, agt keer doeltreffender as dié van mensgemaakte verspreiers. Verbasend genoeg, hierdie uitsonderlike vermoë om lig te versprei of te laat deurskyn, word nie gevind in die skulpe van naverwante seeslakke wat nie bioluminiserend is nie. Dit is geensins toevallig dat hierdie lig die kleur is wat die verste in seewater trek nie.

Dr. Deheyn sê dat meer kennis oor die flikkerende seeslak “belangrik kan wees in die vervaardiging van materiaal wat lig doeltreffender kan versprei”. Die veld van biofotonika, wat lig vir mediese ontleding en behandeling gebruik, sal ook by hierdie navorsing baat vind. En in hierdie era van LED’s (ligemissiediodes) sal verspreiers wat die lig van klein ligbronne doeltreffender kan versterk, ongetwyfeld tot energiebesparing bydra.


CLUSTERWINK SNAIL

Many sea creatures are bioluminescent—that is, able to produce light. The clusterwink snail uses this ability in a unique way. When threatened by a predator crab, the clusterwink retreats into its shell and “flashes,” producing flickers of light that scare off the crab. But how does light shine through the snail’s shell?

Far from being a barrier, the shell of the clusterwink snail diffuses light. Dimitri Deheyn and Nerida Wilson, scientists at the Scripps Institution of Oceanography in San Diego, California, U.S.A., found that the light produced by the snail is uniformly spread throughout the entire shell, and the shell diffuses the light ten times more efficiently than a commercial diffuser of the same thickness (.02 inch; 0.5 mm). At the same time, the shell’s ability to transmit this light to its surroundings is eight times more efficient than man-made diffusers. Surprisingly, this extraordinary capability to diffuse or transmit light is not found in the shells of closely related nonbioluminescent marine snails. Not coincidentally, this light happens to be the color that travels the farthest in seawater.

Dr. Deheyn says that learning about the clusterwink snail “could be important for building materials with better optical performance.” The field of biophotonics, which uses light for medical analysis and treatment, also stands to benefit from such research. And in this era of light-emitting diodes, diffusers capable of more efficiently amplifying small light sources will doubtless contribute to energy savings.

(Die reeks is saamgestel deur Kleingert Horn, ZS6HRN)