Indië – deur Helgard Honiball, ZS6HON

Helgard Honiball, ZS6HON reis gereeld (deesdae teesinniglik) vir besigheid. Hy het ophou tel by 30 lande wat hy al besoek het, en sy eerste oorsese reis was na Engeland in 1989.

10.png
Gateway to India, Mumbai

Indië is ‘n land van kontras en intensiteit. Niks met mate nie. Niks stil nie, en niks sonder drama nie. Die eerste keer toe ek Indië toe is, kon ek nie wag om huis toe te kom nie. Die volksvreemde musiek, eindelose wierook en nimmereindigende biep-biep van toeters het my òòr geraak. Die tweede keer het ek gedink, “My genade, ek sien nou nogal uit na die reis.” Vandag as ek vry keuse van ‘n internasionale bestemming het, kies ek Indië sonder om te aarsel. Die ouwereldse mistiek met die geur van wierook, die kakafonie van toeters en musiek in die skemerlig hou ‘n blywende bekoring in. Iets wat ‘n mens nerens anders kan beleef nie as byvoorbeeld op ‘n hotel se terras in Udaipur.

Ry jy in ‘n tuk-tuk in die straat word jou sintuie oorval. ‘n Tuk-tuk is nou een van daai grassnyer-kruiwa goeters wat Leon Schuster so van hou om in sy films te gebruik. Jou gehoor loop deur onder die konstante gebiep-biep van sy toeter wat ander mense te waarsku of verjaag. Die reuksintuig werk oortyd op die geur van kerrie kos. Jy proe stof, en jou sig is gevul met die oor-helder kleure van die sari’s. Om van die tassintuig nie te vergeet nie – die klipharde bank onder jou koksiks.

En dan die kontras. Die sari’s het helder kleure – ek onthou ‘n donker indier vrou in ‘n amper fluoriserende ligblou sari met ‘n goue ring in die neus besig om ‘n bak sement te dra op ‘n bouperseel. Of die een in die lemoen oranje sari besig om op ‘n rommelhoop te krap. Beide loop met ‘n grasie, en dra hulself op ‘n eienaardig waardige en statige manier.

Ry mens in die straat af, ruik jy die een oomblik nog die geurigste kos, en die volgende oomblik ry die tuk-tuk deur ‘n hoop olifantmis net langs ‘n stroom rou riool. Loop daar ‘n trop vrouens dan lyk dit soos ‘n psigidiliese smartieboks. Kontras wat jou sinne oorlaai.

In die strate ry tot vyf mense op een 125cc motorfiets. Daar is tuk-tuks, die immergewilde Ambassador taxi, Tata en Mahindra karretjies, Ashok Leyland trokke en trekkers. Hulle deel die pad met buffels, honde, varke en voetgangers wat willekeurig die pad kruis. Strate in die stede is maar beknop, en die voertuie skuur-skuur en biep-biep by mekaar verby. Reels is daar nie te veel nie, en op die snelweg tref jy maklik ‘n bus aan wat teen die verkeer op ry. Snaaks genoeg het ek nog nooit ‘n motorongeluk gesien nie.

20.png

Indie leer mens ook vloek, natuurlik. Nou soos PG du Plessis van koöperasiestories-faam gepostuleer het, is daar twee soorte vloeke. Die ou vloeke wat die ou mense maar altyd gevloek het, en die nuwe vloeke wat die Van Vuurentjies van die stad af gebring het. In Indië, verkies ek nuwe vloeke wat begin met “voor die poedelhond…” bo ou tradisionele staatmakers soos “jou ouma se trifle poeding!” weens hul inhirent ritmiese aard. Die nuwe vloeke is ook meer geskik om in vergaderings deur jou tande te sis vir jou kollegas en dan heel onskuldig te kyk hoe hulle probeer om hulle lag af te sluk en nie te laat blyk aan die gashere dat jy pas hulle persoonlike higiene beswadder het nie.

Maar die kos moet genoem word. Ek kan lofliedere sing vir ure lank oor die kos. Vat nou byvoorbeeld groenboontjies. By ons doen ons hoogstens drie variasies op die tema, en een van daai variasies sal Ouma straks as grensgeval ontugtig beskou. Indiese variasies is legio, en elkeen in ‘n keuse van warm, baie warm, vagevuur of “ring sting for a week sir”. Of dit is hoe dit voorkom vir ‘n standaard uitreiking van Afrikaanse Boere palet. Omdat daar so baie variasies is, sal hierdie seun van ‘n skaapboer maklik ‘n week kan gaan sonder om vleis te eet, en nie hunker na ‘n tjop nie.

Van vleis gepraat, jy word nie toegelaat om buffel of bees te eet nie – hulle is mos heilig. Hulle eet wel hoender, skaap (wat ek vermoed eerder ‘n klein soort bok is), en vark in die vorm van spek kry jy in Westerse hotelle. Tandoori hoender word in ‘n oondjie (“tandoor”) gebak, en het ‘n rooi masala (spesery mengsel) op. “Paneer” is kaas, en jy kry ‘n kerrie met kaas, lensies (“dahl”) in ‘n geel masala. Met etes word ‘n paar geregte bestel, en dan gedeel tussen die gaste deur kelners wat dit in die individuele borde skep.

30.png

Tipiese ete. Dahl Makanwala links, groen gekruide hoender, groente Kerrie, rys, naan brood en “bladjang”in die drie bakkies regs

 

Gewoonlik word met die hand geeet. Die regterhand, en net jou regterhand. Die linkerhand is vir ander huishoudelike take gereserveer. Jy breek ‘n stukkie roti of jipati (selfde ding – ‘n plat brood skyfie) af, en skraap daarmee ‘n mondvol kos bymekaar. Knyp dit vas in die brood en stop jou gesig daarmee. Gewoonlik is die nagereg intens soet, of dikmelk met komyn of ander spesery.

Na ete, gewoonlik by die deur, is daar ‘n skinkbord met vakkies vol anys, suikerballetjies wat aan koekversiering herinner en een twee ander sade met ‘n teelepel. Jy skep vir jou ‘n paar sade en kou dit om die palet uit te vars. Dit help ook jou maag om die oorlading te verwerk, en dat mense jou in die gesig kan kyk as jy na ete met hulle praat.

40.png

Na-ete: Bo anys, links onder verskillende sade en regs is suiker

 

Van vergaderings gepraat, hulle verwys na die Engelse as die “Britishers”. Dit is nogal nie ‘n vleiende term in hulle verwysingsraamwerk nie. Daar is blykbaar ‘n bietjie onsmaaklikheid oor die kroon hulle ‘n kolonie verklaar het, maar die een ding wat die Britte hulle geleer het, en wat hulle toe vervolmaak het was burokrasie. Meng dit met hulle “caste” stelsel wat die hele samelewing in lae verdeel, en jy kry ‘n uitgerekte diep korrupte proses waarin westerlinge nie kan besigheid doen nie.

Ek geniet Indië baie. Maar mens weet egter jy het nou lank genoeg in Indië gekuier as jy vir jou bakkie dalh makanwala kyk (‘n buin lensie bredie), en dink: “Ja ou broer. Jy lyk nou presies soos jy sal lyk as ek jou more oggend weer sien”.

Helgard Honiball, ZS6HON

Advertisements

Navorsing uit die natuur – No 9, DNS / DNA

320px-Eukaryote_DNA-en.svg.png
For english – scroll down

DNS

REKENAARGEBRUIKERS bring ontsaglike hoeveelhede digitale inligting voort wat geberg moet word en toeganklik moet wees wanneer nodig. Wetenskaplikes hoop om huidige digitale bergingsmetodes drasties te verander deur ’n baie beter databergingstelsel na te boots wat in die natuur gevind word—DNS.

   DNS, wat in lewende selle gevind word, bevat miljarde brokkies biologiese inligting. “Ons kan dit uit die gebeente van wollerige mammoete haal . . . en daaruit sin maak”, sê Nick Goldman van die Europese Instituut vir Bio-informatika. “Dit is ook ongelooflik klein en dig saamgepak en het nie ’n kragbron nodig om inligting te berg nie; daarom is dit maklik om te versend en te bewaar.” Kan DNS mensgemaakte inligting berg? Navorsers sê ja.

Wetenskaplikes het gekodeerde teks, beelde en oudiolêers in DNS geberg, op soortgelyke wyse as wat inligting op digitale media geberg word. Die navorsers kon later die gebergde inligting 100 persent akkuraat ontsyfer. Wetenskaplikes meen dat een gram kunsmatige DNS uiteindelik, met behulp van hierdie metode, die inligting sal kan berg waarvoor sowat 3 000 000 CD’s nodig is en dat al hierdie inligting honderde of selfs duisende jare lank bewaar sal kan word. Die moontlikheid bestaan dat hierdie stelsel die hele wêreld se digitale argief sal kan berg. DNS is dus al “die allerbeste hardeskyf” genoem.

 

DNA

COMPUTER users generate enormous amounts of digital data that has to be stored for access as needed. Scientists are hoping to revolutionize current methods for digital storage by imitating a far superior data-storage system found in nature—DNA.

DNA, found in living cells, holds billions of pieces of biological information. “We can extract it from bones of woolly mammoths . . . and make sense of it,” says Nick Goldman of the European Bioinformatics Institute. “It’s also incredibly small, dense and does not need any power for storage, so shipping and keeping it is easy.” Could DNA store man-made data? Researchers say yes.

Scientists have synthesized DNA with encoded text, images, and audio files, much as digital media stores data. The researchers were later able to decode the stored information with 100 percent accuracy. Scientists believe that in time, using this method, 0.04 ounce (1 g) of artificial DNA could store the data of some 3,000,000 CDs and that all this information could be preserved for hundreds if not thousands of years. Potentially, this system could store the whole world’s digital archive. DNA has thus been dubbed “the ultimate hard drive.”

Navorsing uit die natuur – No 8, Die langhoringsprinkaan

LANGHORINGSPRINGKAAN2

’n LANGHORINGSPRINKAAN (Copiphora gorgonensis) wat in Suid-Amerika voorkom, het ore van minder as ’n millimeter lank, wat op ’n baie soortgelyke manier as die mens se ore werk. Die insek kan op ’n lang afstand ’n groot verskeidenheid frekwensies onderskei. Hy kan byvoorbeeld onderskei tussen die geluid van ’n ander langhoringsprinkaan en die ultrasoniese klank van ’n vlermuis wat jag.

LANGHORINGSPRINGKAAN1.jpg

Die langhoringsprinkaan se ore is op sy twee voorbene. Soos met die mens se oor die geval is, kan die langhoringsprinkaan se oor klank opvang, dit verwerk en die frekwensie ontleed. Maar wetenskaplikes het ’n unieke orgaan binne die oor van hierdie insek ontdek—’n drukvaste holte vol vloeistof wat soos ’n lang ballon lyk. Hierdie orgaan, wat die klankblasie genoem word, werk soos die koglea van soogdiere, maar is baie kleiner. Die klankblasie is verantwoordelik vir die langhoringsprinkaan se merkwaardige gehoor.

Professor Daniel Robert, van die Universiteit van Bristol se Fakulteit van Biologiese Wetenskappe in die Verenigde Koninkryk, sê dat hierdie ontdekking ingenieurs sal help om “biologies geïnspireerde gehoortoestelle te ontwikkel wat kleiner en akkurater is as ooit tevore”. Navorsers meen dat dit ook sal bydra tot meer gevorderde ultrasoniese ingenieurstegnologie, insluitende beeldstelsels vir hospitale.

Navorsing uit die natuur – No 7, Die Keiserpikkewyn

KEISERPIKKEWYN

DIE keiserpikkewyn kan verbasend vinnig deur die water skiet en tot op ’n ysbank spring. Hoe?

Dink hieraan: Die keiserpikkewyn vang lug in sy vere vas. Dit beskerm nie net die voël teen uiterste koue nie, maar dit stel hom ook in staat om twee of drie keer vinniger te beweeg as wat hy andersins sou kon. Hoe? Seebioloë doen aan die hand dat hy dit regkry deur klein lugborreltjies vry te laat wat tussen sy vere is. Wanneer hierdie borreltjies vrygelaat word, verminder dit wrywing op die oppervlak van die pikkewyn se verekleed, wat die voël in staat stel om vinniger te beweeg.

Interessant genoeg, ingenieurs ondersoek maniere om skepe vinniger te laat vaar deur borrels te gebruik om wrywing teen die romp te verminder. Navorsers erken egter dat verdere navorsing ’n uitdaging is omdat “dit moeilik sal wees om die pikkewyn se komplekse verekleed na te maak met ’n mensgemaakte poreuse membraan of maasstof”.

Klasie en oom Fanie- Bismarck

Die son is besig om op te kom en oom Fanie sit alreeds op die stoep en sien hoe die populierbos se skaduwees al hoe korter word soos die son hoogte kry in die Ooste. Hy maak sy oë skrefies   om seker te maak dat al die beeste   nog op die plaas is terwyl hy die beeste tel wat in die ooste kant van die plaas wei, hy vrees vir die oggend wanneer al die beeste nie daar gaan wees nie. Aan die ander kant van die plaashuis bondel die skape voor die kraalhek, hulle kan nie wag vir hul vryheid om die dag in die veld te spandeer nie. Oom Fanie sug en sê kliphard dat hy nog nooit so ʼn onbevoegde spul bymekaar gesien het nie, hy vou die koerant op en gooi dit in die verste hoek van die tafel. Oom Fanie is rooi in gesig van woede, hy gaan staan voor die stoep se trap haal diep asem totdat sy gesig se normale kleur weer terugkeer. Terwyl hy so staan en diep asemhaal hoor hy hoe Klasie met sy motorfiets aangery kom. Klasie klim opgewonde van die motorfiets af, groet oom Fanie met die hand en gaan maak hom tuis by die groot tafel op die stoep.

Klasie kan dadelik sien dat oom Fanie ʼn bietjie omgekrap is vanoggend en dat almal vandag op die plaas sal moet ligloop. Fanie sien dat die koerant opgevou is en daar ver op die tafel lê. Klasie vra dadelik, hoekom die koerant dan nou daar ver lê vanoggend. Klasie besef dadelik dat die koerant alles te doen het met oom Fanie se toestand. Jy weet Klasie, sê oom Fanie, ek weet regtig nie wat van ons ou landjie gaan word nie, alles is opgedinges, niks is meer reg nie. Behalwe vir die regering wat nie eers die woord regeer kan spel nie is die misdaad besig om ons almal soos ʼn kanker stadig op te vreet. Daar is nie meer keer aan die misdaad nie, ons ou renostertjies is nie eers meer veilig nie.

Waar in die wêreld het jy gesien dat groot regerings entiteite se rade sommer so afgedank word omdat hulle net aanjaag, ons minister wat na die pensioene kyk se net “sorry” en dit is die einde daarvan.   Daar word die een na die ander polisie hoof aangestel wat dan ook maar net weer in die pad gesteek word weens een of ander opgeruimdheid, wys my enige ander land in die wêreld waar dit so gaan. Jy weet Klasie, van die plaasmoorde praat ek nie eers nie, hoekom die mense staan martel nadat alles geroof is, dit is mos nie menslik nie, hoekom vat hulle nie hul buit en loop, maar nee die mense moet eers gemartel en vermoor word. Ek sê jou vandag dat die doodstraf baie van hierdie moorde sal laat ophou. Klasie sien dat oom Fanie homself al hoe dieper in ʼn depressie praat en vra vir oom Fanie of hy darem goeie reën gehad het. Dit het baie lekker gereën Klasie antwoord oom Fanie, ons is baie dankbaar vir die goeie reën, ek sien dat tot die Vaaldam vol is nadat ons agbare minister voorspel het dat dit tot 3 jaar kan neem om vol te kom.

Hoe gaan dit met die radio’s vra oom Fanie vir Klasie. Ek sukkel maar om ʼn bietjie DX te werk antwoord Klasie, die voortplanting is so sleg en dit gaan maar sukkel sukkel. Oom Fanie skud sy kop op en af as bewys dat hy saamstem. Ek wil maar vir my ʼn versterker aanskaf wat sal help dat ek ʼn bietjie beter uitkom, Dit sal help antwoord oom Fanie, maar kry eers vir jou ʼn antenna met ʼn lekker wins wat jou send en ontvang sein versterk voordat jy kyk na ʼn versterker, jy sal dadelik die verskil agterkom. Ons het in die oorlog na die Duitsers geluister met baie hoe wins antennas wat ons ook gebruik het om hul sein mee dood te druk. Ek se vir jou Klasie, sonder daardie antennas sou ons nie hond haaraf gemaak het nie. Dit is met daardie einste antennas waarmee ons gehoor het dat die Bismarc in El Alamein se hawe geanker lê.

 

Untitled1

Jy weet Klasie die Bismarc was Hitler se troefkaart teen die Engelse vloot. Dit was ʼn pragtige skip, sy was 241.6 meter lank, sy het 41700 ton verplaas en kon teen 35 km uur vaar. Sy het 12 Wagner superhitte ketels gehad wat 6 turbines stoom gegee het. Sy het 103 offisiere en 1962 manskappe aan boord gehad. Haar grootste kanon het ʼn 380mm projektiel geskiet. Die Bismarc was ʼn groot skip en is op 24 Augustus 1940 vir die Duitse vloot gegee om die oorlog op die see vir Duitsland te wen. Sy het amok gemaak sover sy gaan, die Engelse vloot het alles in hul vermoë gedoen om haar te sink. Dit is mos toe dat ek en die paar troepe in my tent net daar besluit dat ons die Bismarc gaan sink. Ek was ten volle bewus dat generaal Smuts my belet het om aan enige verdere operasies deel te neem, ek is kwansuis nou te veel werd vir die geallieerdes. Ek het my trommel vol medaljes onder begeleiding huis toe gestuur en gedink dat dit nou weer tyd is vir ʼn medaljetjie of twee.

Untitled2

Ons het vir weke beplan hoe ons die Bismarc gaan sink sonder om self aan die pen te ry. Die eerste wat ons gedoen het was om om Duits op te knap en die matrose se taal wat hulle op die skip gebruik aan te leer. Ons moes gou maak want sy gaan nie meer lank in El Alamein wees nie. Die tyd het aangebreek en ons was gereed om die Bismarc te sink.

Nadat ons twee dae ongemerk deur die woestyn getrek het kom ons in El Alamain aan. Dit was ʼn baie besige stad en om elke hoek was daar Duitse soldate, Himler en ʼn paar van sy generaals was ook in die stad wat veroorsaak het dat die stad ook vol SS soldate was. Ons was nogal versigtig vir hulle omdat hulle baie goeie opleiding ontvang het. Ons gee voor dat ons mediese personeel is wat op soek is na die oorsprong van ʼn verskriklike siekte wat onder die troepe uitgebreek het. Ons vertel dat hierdie siekte jou soos ʼn suur stadig opvreet. Ons het ook versprei dat van ons alreeds hierdie siekte het en dat dit   is waarom ons die oorsprong moet opspoor. Dit het soos ʼn veldbrand versprei, Himler en sy generaals het die stad dadelik verlaat, die meeste offisiere is die woestyn in om te verhoed dat hulle ook die siekte kry. Die volgende oggend kom ons by die hawe aan, ons monde val oop toe ons haar sien daar waar sy geanker lê, sy is donker grys geverf met ʼn baie groot rooi swastika op haar boeg. Alles lyk so vreedsaam, daar is ʼn paar matrose wat op haar rondstaan met ʼn hele spul wagte op die kaai wat haar oppas. Ek se vir jou Klasie dit is die mooiste skip met haar groot kanonne wat ek nog ooit gesien het. Dit was so jammer dat dit oorlog was en dat ons haar moet sink.Untitled3

Die wagte het ons dadelik opgemerk en begin weg beweeg van die skip af. Hulle begin met ons praat terwyl hulle n veilige afstand vanaf ons hou. Ons het ons die oggend met grimering so verander dat dit lyk of ons neuse en ore alreeds weggevreet is, dit het veroorsaak dat almal baie ver van ons af weggebly het, niemand wou dit naby aan ons waag nie. Ek lei my span sonder enige weerstand tot op die skip.   Ons klim in die skip af tot heel onder waar ons die skip se proppe kry. Ons stel vinnig die plofstof wat die proppe na ʼn halfuur sal afskiet. Nadat ons alles reggestel het begin ons nou weer teruggeklim om uit die skip te kom. Soos ons deur die skip beweeg kan ons sien hou mooi die skip gebou is, dit was regtig ʼn kunswerk om te aanskou. Toe ons weer op die skip se boeg is sien ons dat die Duitsers nou hondsegedagte het en dat hulle nie meer so seker is oor ons nie. Ek verduidelik aan hulle dat ons nie verder in die skip kan soek na die kiem nie omdat ons glad nie lekker voel nie en dat ons more weer sal terugkom om verder te soek. Ek neem ʼn sluk van my waterfles wat vol tamatiesous is. Ek gee voor dat ek ʼn hoesbui kry en hoes dat die bloed so spat. Die bloed verander die Duitsers se geloof dadelik en almal maak seker dat ons so gou as moontlik van die skip afkom. Ons het in die stad inbeweeg toe ons die dowwe ontploffings hoor wat die proppe in die Bismarc afskiet. Die hele Duitse leer het dit ook gehoor wat veroorsaak het dat die hele stad op sy kop gekeer was. Niemand weet waar die ontploffings was nie, dit was eers toe sy na die bakboord kant toe oor hel dat hulle besef dat die Bismarc gesaboteer was. Die Duitsers het probeer om die water uit te pomp maar dit was reeds te laat, Sy het net daar in die hawe gesink. Ons kon die Duitsers hoor huil en skree van teleurstelling toe die Bismarc gesink het. Die Duitsers het verskriklik na ons begin soek sonder sukses.

Untitled4

Klasie, ek kan nou eerlik se dat ek nog nooi so bang was daar waar ons geskuil het in El Alamein. Ons het in ʼn oond geskuil wat brood bak. Ons het amper doodgebrand in daardie einste oond nadat die bakker die oond moes aanskakel terwyl die Duitsers die bakkery deursoek. My hare het al begin skroei toe ons eers daar uitkom, dit was amper neusie verby vir ons.

Die sink van die Bismarc was ʼn baie groot verleentheid vir die Duitsers omdat hulle vlagskip onder hul neuse gesink was. Hitler was so kwaad dat hy vir generaal Rommel laat vermoor het. Daar is nou baie verskillende stories oor wat met die Bismarc gebeur het, die Duitsers het baie gou ʼn storie opgemaak dat hulle die skip self gesink het omdat hy omsingel was deur Engels skepe. Kom ek se nou vir jou dat dit ʼn wolhaar storie is, die Bismarc is gesink deur oom Fanie en sy pelle en deur niemand anders nie.Untitled5

Toe alles rustig is het Generaal Smuts ons deur sy uitgesoekte kommando’s laat haal. Ons was in die woestyn opgepik en dadelik Londen toe gevlieg waar die hele wêreld op ons gewag het. Ons was soos helde ontvang, Winston Churchill het my hand gesoen asof dit aan die koningin behoort het. Ek het tee gedrink uit koppies wat so dun soos papier was. Ek het ʼn hele naweek saam met die koningin en haar man in die paleis gebly.   Ek en die koningin het baie groot maats geword, ek het tot haar kroon opgehad een aand toe ons ʼn bietjie baie Franse sjampanje gedrink het. Daar het ek gesien dat koning Phillip rokke dra, verbeel jou die koning in ʼn rok. Na Engeland is ons Amerika toe waar ons   deur die strate gery het terwyl die mense vir ons skree en gooi met confetti. Elke leier van elke land het vir my en my span geluk gewens, ons was werklik helde. Untitled6Die prysgeld wat ek ontvang het was in die biljoene wat ek net so geskenk het aan die ontwikkeling van die atoombom. Klasie jy moet onthou dat ek jou vertel van my rol in die ontwikkeling van die atoombom. Ek wens net ek kan aan n plan dink om ons ou volkie te red van die swaarkry wat op pad is.

 

Untitled7

Klasie kan sy lag nie hou nie en kry darem n woord uit om te groet voordat hy sy motorfiets aan die brand skop en huis toe ry. Oom Fanie staan op, trek sy hoed reg   en loop die huis in om koffie te gaan soek.

Tot volgende keer

Pieter zs6bvt

Navorsing uit die natuur – No 6, Die Jellievis

JELLIEVIS

Jellievisse bestaan uit ten minste 95 persent water en wissel in grootte van minder as drie sentimeter tot meer as twee meter in deursnee. Baie spesies dryf hulleself aan deur hulle spiere te gebruik om hulle klokvormige liggaam ritmies te laat saamtrek en ontspan, amper soos ’n sambreel wat oop- en toegemaak word.

Wetenskaplikes wat vloeistofdinamika bestudeer, het uitgevind dat sekere jellievisse, hoewel hulle nie vinnig kan swem nie, ’n interessante aandrywingsmetode het. Elke keer dat die dier sy liggaam saamtrek, skep hy ’n ringvormige draaikolk, soos ’n rookkring, wat hy van hom af wegstoot. Die momentum van die ringe skep ’n teenoorgestelde reaksie wat die jellievis vorentoe aandryf, amper soos ’n straal water dit sou doen, maar met energiepulse in plaas van ’n konstante stroom. “Dit klink eenvoudig”, sê die tydskrif New Scientist. “Maar dit is baie moeilik om in wiskundige terme te beskryf hoe ’n draaikolkring gevorm word.”

Navorsers bestudeer die jellievis se aandrywingstelsel sodat hulle doeltreffender onderwatervoertuie kan bou. Een navorser het reeds ’n 1,2 meter lange duikboot ontwerp wat ’n volgstroom soortgelyk aan dié van ’n jellievis voortbring. Die voertuig gebruik 30 persent minder energie as ’n gewone skroefaangedrewe model. Nog ’n veld waarin hierdie kennis toegepas kan word, behels die menslike hart. Aangesien die beweging van bloed in ’n deel van die hart draaikolkringe voortbring, sal die teenwoordigheid van abnormale draaikolke moontlik help om vroeë tekens van hartsiekte te identifiseer.

 

Klubbyeenkoms – Jakkalsjag 11 Maart te Kleinfontein

11 Maart 2017 –

Van die lede het al Vrydag opgedaag by die kampterrein te Kleinfontein maar die meeste het so van 9:30 Saterdag so stuk stuk opgedaag.  Die kampterrein was soos gewoontlik netjies en skoon.  Tente is opgeslaan en koffie aanmekaar gegooi.  Daar was ook worsbroodjies gemaak vir diegene wat ‘n laat ontbyt wou nuttig.

IMG_0003IMG_0004IMG_0005

Tente is opgeslaan vir die wat wil oorslaap en die ander het gesels en koffie en koeldranke gedrink.  Daar was ‘n lekker koel windtjie wat gewaai het  en die sonnetjie het ook lekker geskyn.

So om en by 12 uur het die kommittee bymekaar gekom vir ons maandvergadering – items is bespreek en daar is goedgekeur vir voorlegging aan die lede vir die vervanging van voerlyne by die klub se herhalers sowel as die verskaffing van internet toegang vir die klub se nuwe DMR repeater en Echolink.

IMG_0030

Na die vergadering het van die ander klublede opgedaag en die klub vergadering is toe gou afgehandel – daarna was dit die jakkalsjag.

Twee senders is op verskillende plekker versteek en die wat deelgeneem het moes die versteekde senders gaan soek deur middel van hulle handradios wat op die spesifieke frekwensies ingestel is.  Indien jou sein swakker word loop jy weg van die sender en natuurlik sterker seine beteken jy kom nader aan die sender.  As die sein op sy sterkste is kan jy jou handradio se antenna afhaal om sodoende weer die sein te probeer optel.

IMG_0042

So het almal die terrein ingeval met hulle hoedens en handradios.  Daar is gese dat die versteekde senders ‘n boekie nommers het en die persoon wat hom vind moet die eerste nommer afskeur en hou as bewys dat die jakkalsie gekry is.  Dit moes ook stilletjies gedoen word sodat die ander lede nie sommer maklik die sender kan sien en kry as hulle jou volg nie.

Hier is ‘n paar ‘jag’ fotos:

Na die  jakkalsjag is daar koffie en tee en natuurlik koek en versnappering genuttig.  Kleingert het die braaiers bymekaar getrek vir die braai.  Dit was ‘n heerlike byeenkoms – baie lekker gekuier  – dankie aan almal wat die nodige voorsien het om dit ‘n sukkselvolle byeenkoms te maak.

Peter – ZS6SP

Navorsing uit die natuur – No 5, Die Vlieg

FLIEG

Waarom kan die gewone huisvlieg ingewikkelde en presiese bewegings in die lug uitvoer? Hoe kry die insek dit reg om gou weer tot verhaal te kom en in die regte rigting te vlieg nadat ’n windvlaag hom getref het? Die antwoord behels twee klein aanhangsels wat balanseerkolfies genoem word, waarvan een agter elke vlerk gevind word.

’n Balanseerkolfie is soos ’n klein tromstokkie met ’n geknopte punt. Terwyl die insek vlieg, beweeg die balanseerkolfies op en af teen dieselfde tempo as die vlerke, maar in die teenoorgestelde rigting. Wetenskaplikes het ontdek dat balanseerkolfies as ’n uitstekende soort giroskoop dien, wat die vlieg help om stabiel te bly wanneer hy vlieg.

Omdat die balanseerkolfies geknopte eindpunte het, “beweeg hulle heen en weer in een spesifieke rigting, soos die pendulum van ’n horlosie”, sê die Encyclopedia of Adaptations in the Natural World. As ’n vlieg skielik in die lug van rigting verander, hetsy doelbewus of as gevolg van ’n skielike windvlaag, “sal die steel van die balanseerkolfie draai”, sê die ensiklopedie. “Hierdie draaibeweging word bespeur deur ’n digte bondel senuwee-eindpunte, en die inligting word na die brein gestuur sodat die vlieg die nodige aanpassing kan maak om . . . op koers te bly.” Gevolglik is vlieë baie rats en moeilik om te vang.

Ingenieurs kan dink aan tallose gebruike vir tegnologie wat deur die balanseerkolfie geïnspireer word, in dinge soos robotte, mikromeganiese vlieënde insekte en ruimtevoertuie. “Wie sou kon dink dat ons soveel sou kon leer by ’n klein, ongewilde skepseltjie soos die vlieg?” het die ruimtenavorser Rafal Zbikowski geskryf.

 

Navorsing uit die natuur – No 4, Die Grondeekhoring

GRONDEEKHORING

WANNEER ’n dier met sy winterslaap begin, daal sy liggaamstemperatuur. Hoe laag kan dit daal? Twaalf arktiese grondeekhorings het blykbaar ’n rekord opgestel—toe hulle liggaamstemperatuur tot -2,9 grade Celsius gedaal het! Teen hierdie temperatuur sou ons verwag dat hulle brein sou vries. Hoe oorleef die arktiese grondeekhoring dit?

Gedurende sy winterslaap bewe die arktiese grondeekhoring elke twee of drie weke totdat hy weer sy normale liggaamstemperatuur van 36,4 grade Celsius bereik, en hy word eers ná sowat 12 tot 15 uur weer koud. Navorsers sê dat hierdie verwarmingstyd, hoewel dit kort is, ’n rol speel in die oorlewing van die brein. Wat meer is, gedurende die arktiese grondeekhoring se winterslaap bly sy kop blykbaar effens warmer as die res van sy liggaam. Gedurende eksperimente in ’n laboratorium het die nektemperatuur van die bogenoemde eekhorings nooit onder 0,7 grade Celsius gedaal nie.

Wanneer die eekhoring uit sy winterslaap wakker word, begin sy brein binne ongeveer twee uur weer normaal werk. Trouens, volgens een studie werk die eekhoring se brein selfs beter ná sy winterslaap! Deskundiges is verbyster deur hierdie verstommende herstel. Hulle vergelyk dit met nuwe plantjies wat binne dae ná ’n bosbrand uit die verskroeide grond opkom.

Navorsers hoop dat hulle studie van die arktiese grondeekhoring hulle sal help om beter te verstaan waartoe die mensebrein in staat is. Hulle doel is om meer te leer oor hoe om die selskade te voorkom of selfs ongedaan te maak wat breinsiektes, waaronder Alzheimer se siekte, aanrig.