Kompakte en Onsigbare Antennas

Pieter ZS6BVT

Baie van ons radio amateurs geniet die vryheid wat ons nog het om antennas op ons plase, plotte en erwe op te sit sonder dat een of ander wetgewing ons verhoed om ʼn toring met ʼn groot yagi op te sit. Ons is regtig gelukkig aangesien daar heelwat lande en plekke is soos hier by ons ook wat die opsit van enige antenna van watse aard ook al verbied. Dit maak dan die plek vir n radioamateur onbewoonbaar. Ons sal verbaas wees om te sien hoeveel radio amateurs wel in hierdie gebiede woon met geen antenna in sig nie. Hierdie areas word wel bewoon deur radio amateurs wat die stokperdjie nog steeds bedryf en geniet met antennas vir al die bande.

Stel jou nou voor dat hier by ons ook so ʼn algemene wet in werking gestel word wat beteken dat alle opsigtelike antennas binne ʼn bepaalde tyd verwyder moet word. Om mee te begin sal ons dadelik ons gevoel teenoor die betrokke instansie bekend maak, die wapen sal dalk opgeneem word maar sonder enige sukses, die antennas sal moet af. Nou hoe gemaak, hoe gaan ons aangaan met ons afsprake op die lug, hoe gaan ons op die lug kom, met wie gaan ons praat, dit gaan voel of die einde van die wêreld aangebreek het. Nie regtig nie, ʼn Boer maak ʼn Plan.

Voordat ons ʼn paar voorbeelde bespreek moet ek eers ʼn paar punte uitklaar. Dit is ʼn feit dat ʼn verkorte antenna nie so doeltreffend soos ʼn vollengte antenna gaan wees nie, dit is ʼn feit dat ʼn versteekte antenna nie so goed sal werk soos ʼn antenna daar bo in die lug nie, dit is ʼn feit dat ʼn antenna instemmer nie die antenna instem nie, dit is ʼn feit dat hoe meer krag hoe groter die kans vir ʼn steuring. Hierdie verliese is glad nie ʼn probleem nie, ons is nie in ʼn hoogste S punt kompetisie nie, ons wil net kan kommunikeer met ander radio amateurs.

Kom ons kyk na paar antennas wat gebruik kan word.

My persoonlike gunsteling vir alle situasies is die magnetiese lus antenna. Hierdie antenna kan in enige situasie gebruik word. Die antenna vergelyk baie goed met ʼn dipool en kan langs jou in die hok, op ʼn balkon, binne in die dak, in die tuin of enige ander moontlike plek verstekk word met uitstekende resultate. ʼn Lus met ʼn deursnee van 2 meter kan alle bande vanaf 40 meter tot 10 meter werk, 80 en 160 meter moet die lus ʼn deursnee van ten minste 4 meter hê. Die lang draad antenna is net so ʼn lekker effektiewe antenna om te gebruik. Hierdie antenna kan tussen bome weggesteek word, dit kan van ʼn gebou afgehang word, dit kan op die dak tussen die teëls versteek word, dit kan in ʼn vlagpaal versteek word, dit kan op ʼn heining versteek word.  Die lang draad kan ʼn baie lekker multi band antenna wees.

Die dipool kan ook baie lekker weggesteek word binne in die dak, of binne in die huis, op ʼn heining, bo op die huis se nok. Die dipool se bene kan korter gemaak word om iewers in te pas deur die bene terug te vou of ʼn spoel in elke been in te sit. Sit vir elke band waarvoor daar plek is ʼn stel bene by en jy het ʼn lekker multi band antenna. Voer die dipool met ʼn oop voerlyn en jy het ʼn uitstekende multi band antenna met die gebruik van ʼn antenna instemmer.

ʼn Vertikaal kan ook lekker weggesteek word in ʼn boom, of opgemaak word soos ʼn vlag of lamp paal. ʼn Vertikaal wat soos ʼn weerligafleier lyk sal geen aandag trek by ʼn gebou met ʼn grasdak nie. ʼn Mobiele vertikaal kan ook aan ʼn tralie op ʼn balkon tydelik vasgemaak word Daar is nog heelwat maniere om antennas weg te steek. Dit is nie altyd nodig om die antenna weg te steek nie, ʼn 1mm draad is heeltemal onsigbaar vir die blote oog wanneer dit daar bo in die lug gespan word as ʼn dipool of lang draad. Som jou situasie op en kyk wat die moontlikhede is, om ʼn antenna in die lug te kry, daar sal ʼn manier wees om op die lug te kom. ʼn Laaste opsie kan dalk wees om die huis se geut op te laai vir ʼn antenna, dit werk baie goed, die geut moet net voorberei word voordat jy dit gebruik.

Onthou ʼn boer maak ʼn plan maar ʼn radio amateur het een.

antennas.jpegTot volgende keer.

Pieter ZS6BVT

Advertisements