Klasie en Oom Fanie

Die winter sonnetjie is besig om sy kop te lig, die bome gooi sulke lang skaduwees oor die plaas en die diere staan op elke kol waar die son skyn om warm te word.

Oom Fanie sit ook in die son op die stoep en absorbeer die hitte van die son terwyl hy aan ʼn stomende koppie koffie slurp. Oom Fanie hoor Klasie se motorfiets en hou hom dop soos hy met die grondpad aangery kom. Klasie is onherkenbaar aangetrek teen die koue, oom Fanie glimlag omdat Klasie soos die mannetjie in die bande advertensie lyk. Klasie maak sy motorfiets staan en raak van die oortollige klere ontslae, hy vryf sy hande vinnig teen mekaar om die lewe in sy hande terug te kry. Sy warm asem maak ʼn wit wolk om sy kop wanneer hy praat, dit lyk kompleet of hy ʼn rookbom ingesluk het. Klasie gaan sit en kry ʼn vuurwarm koppie koffie uit die kombuis. Nee oom sê Klasie, die winter is nie vir my nie, oom Fanie skud sy kop op en af as teken dat hy saamstem.

Jy weet Klasie sê oom Fanie, Klasie besef dadelik dat die politieke opsomming aan die kom is. Wat regverdig dit om jou kind se skole af te brand, vra oom Fanie terwyl hy sy wysvinger in die rondte om sy oor draai, die ou kindertjies moet nou buite in die koue onder ʼn boom skoolgaan, Ek kan mos nou nie my huis staan en afbrand omdat ek ongelukkig is oor die droogte nie, nee Klasie hier is groot fout met die manier wat hierdie mense dink. Ek sien die nuwe bokspan is gekies met ʼn hele paar verrassings, dit was ook maar so sukkel sukkel teen die Iere sê oom Fanie.

Genade Klasie, wat gaan aan met die vliegtuie, die goed val nou soos dooie vlermuise uit die lug uit, grotes, en kleintjies, as jy hoor dan het daar een iewers geval. Ek is nou maar bangerig om op een van die goed te klim, ʼn mens weet nie watter idioot het die een of ander iets aan die vliegtuig gedoen nie, bo en behalwe van ʼn bom of iets dergeliks skiet die slegte ouens jou uit die lug uit wanneer hulle die kans kry. Ek sien ons minister het sowaar al ons reserwe brandstof vir ʼn winskoop verkoop, hoe op dees aarde kan ʼn mens nou so ʼn ding gaan staan en doen. Dan het die ou veelwywer sowaar vir elke vrou ʼn motor gaan staan en koop, die duurste op die mark, dit lyk regtig of dit goed gaan met die ekonomie soos hierdie ouens die geld uitgee. Die bedrag wat hy nou moet terugbetaal is ʼn belaglike bedrag. Ek sal ook daarvan hou om ʼn huis vir 300 miljoen te bou en op die einde van die dag betaal ek net so 10 miljoen vir die hele transaksie. Net toe daar lig in die tonnel is wil hulle nou ons slim minister toesluit, dit is mos dieselfde ou wat besluit hoeveel terugbetaal moet word. Die munisipale verkiesing kom al hoe nader en die leiers begin nou van ʼn slaggat tot ʼn geblokte toilet uit die hoed trek vir ʼn stem, ek se nou vir jou Klasie, dit gaan ʼn baie interessante verkiesing wees, ek hoop net almal aanvaar die uitslag sonder om nou weer in die straat te spring en alles aan die brand steek wat voorkom.

plane.jpegWas dit in die woestyn ook so koud vra Klasie om die onderwerp te verander. Klasie jy het nie ʼn idee hoe koud die woestyn in die nag geword het nie sê oom Fanie. Jy weet Klasie, alles het in die nag gevries, die water in die brandemmers, die brandstof en olie in die voertuie, jy sal dit nou nie glo nie maar tot die alkohol in van die vliegtuie se instrumente het gevries.

Die soldate wat wag gestaan het in die nag het twee weke geneem om weer warm te word na ʼn aand se wagstaan. Dit het ʼn groot probleem veroorsaak met die wagstaan rooster. Ons het die Duitsers met die koue baie keer heeltemal tot stilstand gebring deur ons rioolwater in die aand met vliegtuie op hul voertuie te gaan gooi, dit het hulle heeltemal tot stilstand gedwing deurdat alles vasgevries het. Die spul het so gevrot wanneer dit alles ontvries het dat geen Duitser naby sy voertuig wou waag nie.

Kyk maar op die ou foto’s van die Duitse soldate, jy kan sien dat hulle nog steeds iets ruik. Ek en ʼn paar manskappe het ʼn idee gekry om die verskriklike koue tot ons voordeel te gebruik. Jy weet mos die Duitsers het baie herders honde gebruik om te help wagstaan, ons was vrekbang vir die honde want ons kon nie naby die Duitse kamp kom met die honde wat help wagstaan nie. Ons kruip toe een aand tot teen die honde hokke en gooi toe water pille in die honde se waterbakke. Jy sal nie glo nie Klasie maar die volgende aand hoor ons net honde tjank soos hulle probeer loskom. Die water pille het veroorsaak dat die honde elke minuut hul been moet oplig, wat veroorsaak het dat hulle aan alles en nog wat wasgevries het. Dit het ons toe toegang gegee om so ʼn bietjie paniek by die Duitsers te gaan saai.

Generaal Smuts was so beïndruk met my dat ek in die koue aande in sy warm tent kon slaap, ek praat nie eers van die sakke vol medaljes wat aan my toegeken was nie. Ek moes hierdie medaljes met ʼn spesiale vrag huis toe stuur. Klasie groet vinnig en jaag huis toe voordat hy ook vasvries.

Tot volgende keer.

Pieter zs6bvt