Klasie en oom Fanie

Pieter Zs6BVT

dorreDit is ʼn Saterdag middag, oom Fanie sit op die stoep en kyk oor die droë verdorde land en wonder of die reën ooit gaan kom. Hy sien hoe die brandmaer beeste in die stof rond snuffel met die hoop om iets te kry om te vreet. Terwyl hy so staar besef hy dat ʼn droogte nie kleur ken nie, almal ly daaronder. Oom Fanie is moedeloos, hy het nie meer kos vir sy diere nie, sy Korporasie lening is opgebruik en hy het ook nie meer spaargeld oor om vir die diere voer te koop nie. Dit is vir hom verskriklik om sy liewe diere so honger te sien ly en hy weet dat hy nou niks meer vir hulle kan doen nie. Hy vee ʼn traan af en gaan sit weer stadig op sy stoel, hy maak sy gesig toe met sy hande en begin weer hardop bid vir hulp.

Hy skakel die radio aan om na die weerberig te luister om te hoor of daar nie dalk net ʼn bietjie reën op pad is nie, soos oudergewoonte is daar geen goeie nuus nie, Oom Fanie besef dat hy van sy diere sal moet ontslae raak, hy weet dat die diere hier voor sy oë gaan vrek. indien hy hulle nie verkoop of slagpale toe neem nie. droog

Hy staan op en met sy hande in die sy terwyl hy in die rigting van die grootpad kyk en wonder wat van Klasie geword het, dit is vreemd dat hy nie vandag kom kuier het nie. Oom Fanie is vandag baie emosioneel en is nie eers lus om met die ander boere op die lug te praat nie.

ʼn Flitsende blou lug trek oom Fanie se aandag op die grootpad, hy trek sy oë op skrefies om beter te sien, hy besef dat dit ʼn polisiemotor is wat die grootste stofwolk begelei wat hy nog op die grondpad gesien het. Die konvooi het nou ook die honde wakkergemaak wat al blaffende in die plaaspad afhardloop na die konvooi toe. Oom Fanie kan ʼn hele klomp vragmotors in die stof uitmaak, hy voel hoe sy mond droog word en sy hard gaan staan vir ʼn hele 5 sekondes toe hy besef dat die konvooi by sy plaaspad indraai. Hy sien hoe sy honde om die voertuie hardloop en blaf vir die groot bande. Die tannie en van die plaaswerkers het nou ook op die stoep begin vergader om die gedoente te aanskou.

Oom Fanie sien dat op een van die vragmotors is iets van ʼn sirkus geskryf en hy neem dadelik aan dat dit die Sirkus is wat hier by hom kom kamp vir die aand. Hy besluit net daar en dan dat dit glad nie kan gebeur nie want hulle het nie eers genoeg water vir hulle self nie. Hy stap so ʼn bietjie vinniger as gewoonlik nader aan die polisiemotor om vir hulle dankie te se vir die kuier maar dat hulle nou maar moet omdraai en op ʼn ander plek moet gaan kamp.

Oom Fanie se mond val oop toe hy vir Klasie langs die polisieman sien sit met ʼn glimlag wat aan sy twee ore raak. Klasie, wat gaan aan, wat se sirkus bring jy nou hier aan vandag, ons het nie water nie, die mense kan nie hier bly vanaand nie , hulle sal ʼn ander plek moet gaan soek. Dit is nie ʼn sirkus nie oom, sê Klasie, Ons het vir oom water en voer gebring vir die diere. Die radio amateurs het ingespring en almal wat kan help gemobiliseer om die boere in die area te help. Ons het vir oom ʼn tenkwa vol water gebring en genoeg voer om oom deur die droogte te help.

Oom Fanie sak stadig op sy knieë neer terwyl hy hardop huil en dankie se. Terwyl hy so op sy knieë staan bid hy kliphard om dankie se vir die water en voer, sy gebed raak almal so dat hulle almal hande vat en toe oë ʼn sirkel om hom vorm. Geharde drywers sluk hard om die trane weg te hou. Nog nooit het hulle iemand so dankbaar gesien nie. Oom Fanie se werkers begin in hulle taal ʼn dankgebed gebed sing Die tannie is nou ook by en huil kliphard terwyl sy ʼn ieder en elk ʼn drukkie gee. Die pers en tv het ook intussen bygekom, oom Fanie kan nie genoeg dankie se nie terwyl hy sy arm om Klasie se nek hou. Die diere het intussen ook die water en die voer geruik en hom die vragmotors begin saamdrom om van die kos en water in die hande te kry. Alles wat water kan opgaar is volgemaak, die voer is in die skuur gesit . Die aand sit almal om ʼn lekker groot vuur terwyl oom Fanie vleisbraai.

weiNadat almal geëet het, raak dit rustig op die plaas, al wat ʼn mens hoor is die ritmiese kou van die beeste wat herkou aan vandag se maal. Die trokke is die volgende oggend vroeg weg om nog ʼn vrag vir die volgende boer te gaan laai. Oom Fanie besef daardie aand toe hy in die bed lê en aan alles dink wat vandag hier by hom gebeur het besef hy weereens dat vir hom ʼn eer is om ʼn radio amateur te wees en dat hy hoop om ook eendag ʼn kans te kry om iemand regtig te kan help.